About

Ontmoet vir Pieter

Pieter Bonthuyzen is ‘n skrywer en kort film vervaardiger en is gebore en getoë in die Vrystaatse Goudvelde. Hy is reeds bekend vir sy skryf talent en kort films. Sy passie om stories met boodskappe van hoop te skep, het daartoe gelei dat hy reeds drie boeke geskryf het en ook twee kort films vervaardig het.

In 2017 het Pieter sy eerste boek, Noupoort bekend gestel en in 2018 sy tweede boek, Sterligkinders. In 2019 het sy derde boek Lisa die lig gesien. 

In 2019 het hy sy eerste kort film, Agter toe deure vervaardig en up YouTube vrygestel. Hierdie teen-boelie kort film het vinnig in die harte van kykers ingekruip en die kort film het meer as 11 600 kykers op YouTube gelok. Instansies soos Project Braveheart en Inter Trauma Nexus het ook die kort film verwelkom.

Gedurende 2020 het Pieter sy tweede kort film, WEG beplan, maar weens Covid-19 moes die produksie eers uitgestel word. Die produksie is weer in Oktober 2020 hervat en die kort film het op 11 Desember 2020 die lig gesien.

“My passie is om deur my boeke en kort films ‘n verskil in mense se lewens te maak. Ek het hierdie talente van die Here af ontvang en ek wil dit graag gebruik om deur my stories, ‘n boodskap van hoop uit te dra. God is en bly altyd die middelpunt van alles. Maak nie saak wat in die lewe gebeur nie, daar is altyd hoop.”

Pieter geniet dit om plaaslike talent by sy projekte te betrek. ‘n Voorbladnooi soektog was geloots vir sy boek, Lisa. Pieter het plaaslik na ‘n geskikte meisie gesoek wat op die voorblad van sy boek, Lisa sou verskyn. Inge Jacobs van Welkom het hierdie soektog-kompetisie gewen en kort voor lank was haar gesig sinoniem met Lisa.

Pieter span ook plaaslike talent in om in sy kort films te speel. Dit is vir hom lekker om aan jongmense en plaaslike talent die geleentheid te gee om in sy kort films te speel. Dit is altyd ‘n belewenis vir hulle om op ‘n filmstel te wees en voor die kameras te speel. Dit gebeur selde dat plaaslike talent die geleentheid kry om by so ‘n produksie betrokke te wees. Dis is ‘n ongelooflike ondervinding vir hulle.”

“Ons het soveel talent in Welkom. Om plaaslike talent die geleentheid te bied om hulle passie uit te leef, is vir my ‘n voorreg en ‘n wonderlike ervaring. Dit is wonderlik om te sien hoe hierdie akteurs groei en hoe hulle talente ontwikkel. “

Oor sy passie vir films, het Pieter ‘n droom.

“Ek wil bitter graag vollengte films vervaardig en ook ‘n groter platform vir ons plaaslike akteurs skep waar hulle hulle talente kan slyp en ontwikkel. Daar is min geleenthede in ons klein gemeenskap en deur hierdie kort film projekte geniet hulle die ondervinding en blootstelling.”

Pieter is ook ‘n liedjieskrywer en sanger en het reeds ‘n paar nommers uit sy pen laat vloei. Pieter was ook onlang genader om ‘n Kersfees-lied vir ‘n teaterproduksie in Pretoria te skryf. Die lied was toe verwerk en ook daar opgeneem. Weens Covid-19 was hierdie produksie ook uitgestel.

Liedjies soos Noupoort, Halleluja in die Klein-Karoo en Kersfees in Afrika is van sy bestes.

Kuier gerus so bietjie op die webwerf. Koop ‘n e-boek en kyk sommer ‘n bietjie fliek ook.